Vrae oor hoe man wapens gekry het
2011-12-15 07:31
Den Haag. – Indringende vrae word in België gevra oor hoe ’n onstabiele man wat Dinsdag ’n bloedbad in die stad Liege veroorsaak het outomatiese vuurwapens in die hande kon kry.
Die moordenaar, Nordine Amrani (33), wat as ’n metaalwerker in dié stad in die suide van België gewerk het, het luidens berigte reeds as tiener in Brussel gereeld met die gereg gebots.
In 2007 het die polisie ’n klopjag by hom gedoen na aanleiding van ’n wenk dat hy dagga op sy solder gekweek het en tot hul verbasing het hulle tien infanteriewapens by hom ontdek.
Daaronder was ’n tenkafweermissielrigter, ’n ligte masjiengeweer, ’n AK-47 en ’n skerpskuttergeweer. Daarnaas is duisende wapenonderdele en patrone aangetref, asook knaldempers wat hy self gemaak het.
Daarvoor is hy tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, maar hy is ná net twee jaar vrygelaat.
Die polisie het die laaste week of twee ’n verkragtingsaak teen hom ondersoek, en hy moes hom juis gisteroggend by die polisie vir ondervraging aanmeld.
Indien hy skuldig bevind sou word aan die verkragting, sou hy die res van sy vonnis, plus die nuwe vonnis, agter tralies moes uitdien.
Die Belgiese koerante gis dat dít Amrani se motief was toe hy sy woonstel eergisteroggend, gewapen met ’n klomp handgranate en ’n outomatiese geweer, verlaat het. Later het die polisie die lyk van ’n vrou, vermoedelik sy huishulp, met ’n skietwond in die kop aangetref – blykbaar sy eerste slagoffer.
Hy het na die Place Saint-Lambert gegaan waar honderde mense by ’n Kersfeesmark was, drie handgranate na die menigte geslinger en wild op die skare begin skiet. Algehele paniek het losgebars. Uiteindelik is Amrani se lyk ontdek nadat hy vermoedelik selfmoord gepleeg het.
Die finale dodetal staan tans op ses – Amrani self en nog vyf ander. Altesaam 123 mense is gewond, van wie sommige ernstig.
Die tragedie was Woensdag prominent op die agenda van die weeklikse kabinetsvergadering. Die ministers het onder meer besluit dat mense wat herhaaldelik met die gereg bots veel strenger hanteer sal word en dat strenger beheer oor wapenbesit toegepas sal word.
Die minister van binnelandse sake, Joëlle Milquet, het aan die Franstalige Belgiese radio gesê die regering sal kyk na die hele stelsel om mense vroeg vry te laat, asook onwettige wapenhandel.
Die premier, Elio di Rupo, het ook aangekondig dat die saak deeglik ondersoek sal word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger