Voëlgriep eis vyfde slagoffer in Kambodja
2013-02-08 10:15
Phnom Penh – ‘n Vyfjarige meisie van Kambodja is die vyfde pasiënt wat vanjaar in dié land weens die dodelike voëlgriepvirus dood is, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Vrydag gesê.
Die meisie, wat van die suidelike Takeo-provinsie is, is Donderdag in die hospitaal dood en toetse het bevestig dat sy die H5N1-virus gehad het, het die WGO in ‘n gesamentlike verklaring met Kambodja se ministerie van gesondheid gesê.
Sy was in kontak met pluimvee voordat sy siek geword het, het die verklaring gelui.
Altesaam 27 gevalle van voëlgriep is sedert 2003 in Kambodja aangemeld, en almal behalwe drie van hulle was noodlottig. Vier mense van Kambodja, insluitend ‘n 17 maande oue baba, is verlede maand weens die virus dood.
Die virus versprei tipies deur direkte kontak tussen voëls en mense, maar kenners vrees dit kan verander na ‘n vorm wat maklik tussen mense oorgedra kan word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP