Vlugbom: Aanvaller dalk 'n student aan UCL
2009-12-26 18:38
Londen - 'n Britse universiteit sê hy het rekords van 'n student met dieselfde naam as dié van 'n Nigeriër wat 'n Amerikaanse vliegtuig wou opblaas.
University College London (UCL) sê hoewel die naam Abdul Farouk Abdulmutallab nie in sy rekords verskyn nie, was 'n student met die naam Umar Farouk Abdulmutallab wel tot Junie 2008 by dié universiteit ingeskryf.
"UCL kan bevestig dat Umar Farouk Abdulmutallab vir meganiese ingenieurswese ingeskryf was tussen September 2005 en Junie 2008."
"Die universiteit het geen bewyse dat dit dieselfde persoon is waarna verwys word in die media nie."
"Tot die situasie duidelik is, sal UCL nie verder kommentaar lewer nie."
Abdulmutallab (23) her erge brandwonde opgedoen toe hy 'n ploftoestel Vrydag op 'n vlug vanaf Amsterdam na Detroit aan die brand gesteek het.
Intussen het lughawens wêreldwyd hul sekerheid ná dié voorval verskerp.
– Sapa-AFP