Vlugbom: Aanvaller dalk in Brittanje opgelei
2010-01-08 16:55
San'a - Jemen het Donderdag die mees deeglike verslag sover van kontak tussen Al-Kaïda en die vermeende vlugbommer Umar Farouk Abdulmutallab bekend gemaak.
Volgens Jemen het Abdulmutallab moontlik kontak gehad met ’n berugte imam, Anwar al-Aulaqi, wat voorheen kontak met die vermeende Fort Hood-skieter gehad het.
Bewyse het onlangs aan die lig gekom dat al-Aulaqi, 'n Jemeniet wat in die VSA gebore is, per e-pos met Nidal Hasan kontak gehad het.
Hasan word daarvan beskuldig dat hy in November verlede jaar 13 mense op 'n militêre basis in Texas geskiet het.
Abdulmutallab, 'n 23-jarige Nigeriër, word daarvan aangekla dat hy op Kersdag plofstof aan boord van ‘n Amerikaanse vliegtuig aan die brand wou steek.
Weke voor die voorval het Abdulmutallab ’n lid van Al-Kaïda ontmoet in ’n afgeleë berggebied in Jemen, het die premier van Jemen gesê.
Maar al-Alimi het ook beweer dat Abulmutallab deur Al-Kaïda in Brittanje opgely is en dat hy die plofstof in Nigerië ontvang het.
Volgens Amerikaanse beamptes het Abulmutallab gesê dat Al-Kaïda in Jemen hom die plofstof gegee het en hom opgelei het.
Abdulmutallab is in Augustus na Jemen, glo om Arabies by ’n instituut in San'a te studeer. Hy het in September vermis geraak, en was soek tot hy die land op 4 Desember verlaat het.
Volgens Rashad Al-Alimi, wat by die land se sekuriteitsdepartement betrokke is, is dit die tyd wanneer Abdulmutallab en Al-Kaïda in die provinsie van Shabwa ontmoet het.
“Ons twyfel nie vir een oomblik dat hy en Al-Kaïda in Shabwa ontmoet het nie… dalk met al-Aulaqi ook,” het al-Alimi aan joernaliste gesê.
Sekuriteit in Jemen is die laaste week opgeskerp.
Donderdag het die land se departement van binnelandse sake aangekondig dat ’n 25-jarige lid van Al-Kaïda in hegtenis geneem is. Die persoon se identiteit is nie bekend gemaak nie.
-Sapa