Vlug na Amerika draai om ná bomdreigement
2012-08-02 12:15
Tokio – ‘n Vliegtuig van Japan Airlines met meer as 250 mense aan boord, wat na Amerika onderweg was, moes weens ‘n bomdreigement na die Narita Internasionale Lughawe terugkeer, het die lugredery Donderdag gesê.
Die lugredery het glo twee ure nadat die Boeing 777 Woensdag vir New York vertrek het, ‘n e-pos ontvang wat gewaarsku het dat ‘n bom op die vliegtuig geplant is.
Die Jiji Press-nuusagentskap het Donderdag berig dat daar in die e-pos beveel is dat Shoko Asahara vrygelaat word.
Hy is die meesterbrein agter die gasaanvalle in 1995 op die Tokio ondergrondse treinstelsel waarin 13 mense dood en duisende beseer is.
“Die vliegtuig het opgestyg ná sekuriteitsondersoeke, maar ons het besluit om dit te laat terugdraai ná gesprekke met die polisie,” het die nuusagentskap berig.
Ná ‘n deeglike ondersoek van die vliegtuig is geen ploftoestel gevind nie, het die beampte bygevoeg sonder om uit te brei.
Al 247 passasiers en 18 bemanningslede het veilig teruggekeer na die lughawe en hulle het later met ‘n ander vliegtuig na Amerika gevlieg, het hy gesê.
Die e-pos het glo vereis dat Asahara (57), wat saam met 12 ander lede van die Aum Supreme Truth-kultus tot lewenslange tronkstraf gevonnis is nadat hulle dodelike gas in die hoofstad se ondergrondse treinstelsel vrygestel het, vrygelaat word, het Jiji Press berig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP