Vloede ontwortel 150 000 in Bangladesj
2010-06-22 12:46
Dhaka - Minstens 150 000 mense is ontwortel en duisende hektaar plantasies is verwoes deur vloede ná weke van swaar reën in die noordooste van Bangladesj, het 'n beampte Dinsdag gesê.
Vyf weke van swaar reën het veroorsaak dat die riviere se walle oorstroom en groot gedeeltes van die platteland en dorpe verspoel het, het Sazzad Hossain, hoof van die Sylhet-distrik aan AFP gesê.
"Minstens 36 000 gesinne – sowat 150 000 mense – is ontwortel weens die vloede in my distrik," het hy gesê.
Die watervlak is steeds besig om te styg en verwoes plantasies en sny kommunikasie in baie gebiede af.
"Ons het 31 sentrums oopgestel waar 2000 mense gehuisves word," het hy gesê.
Verlede week is minstens 55 mense dood ná die ergste reën in dekades grondstortings en kitsvloede in die land se suidoostelike bergagtige gebied veroorsaak het.
Minstens 12 000 mense is dakloos gelaat ná dié vloede.
Volg Nuus24 op Twitter
- AFP