Vliegtuigkaping in China gefnuik
2012-06-29 12:15
Beijing – Ses lede van China se Uighur-minderheidsgroep het Vrydag probeer om 'n vliegtuig te kaap wat in 'n stad in die land se westelike Xinjiang-streek opgestyg het, maar bemanningslede en passassiers het die poging gefnuik, het owerhede gesê.
Die vliegtuig het weer veilig in Hotan-stad geland en die verdagtes is in aanhouding, het owerhede gesê.
Die kaping volg ná verskeie gewelddadige botsings tussen Uighur-Moslems en die polisie in die stad.
"Die ses kapers is Uighurs," het Hou Hanmin, 'n woordvoerder vir die Xinjiang- plaaslike regering, aan die nuusagentskap AFP gesê.
"In dié stadium weet ons nie wat die doel van die kaping was nie. Dit word steeds ondersoek," het sy gesê.
Minstens sewe bemanningslede en passassiers is tydens die voorval beseer.
Die vliegtuig het om 12:25 in Hotan-stad opgestyg. Die ses verdagtes het ná tien minute die vliegtuig "gewelddadig [probeer] kaap," het 'n verklaring op die Xinjiang- plaaslike regering se webwerf gelui.
Bemanningslede en passassiers het die kapers egter gou oorweldig, en die vliegtuig het omgedraai.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP