Vliegtuigenjin suig man in
2011-08-08 17:35
Wellington – ‘n Nieu-Seelandse vliegtuigingenieur is Maandag dood toe hy in ‘n vliegtuigenjin ingesuig is terwyl hy instandhoudingswerk daaraan gedoen het.
Safe Air, ‘n filiaalmaatskappy van Air New Zealand, het gesê die 51-jarige man is Maandagoggend tydens roetine-instandhouding by sy basis in Blenheim, ‘n dorp op die suid-eiland, dood.
Safe Air het nie besonderhede oor die man se dood bekend gemaak nie, maar 'n onbekende bron het aan Fairfax Media gesê die man is in die enjin van ‘n C-130 Hercules, wat uit die vliegtuig verwyder was om getoets te word, ingesuig.
Die man het na bewering by die toetslokaal ingeloop terwyl die enjin aangeskakel was, berig Fairfax.
Air New Zealand se uitvoerende hoof, Rob Fyfe, sou later vandag na Blenheim gaan om die man se gesin en kollegas te ondersteun.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP