Vliegtuig met Australiese mynbase vermis
2010-06-20 10:30
Sydney – ‘n Vliegtuig met ‘n groep Australiese mynbase aan boord het op pad van Kameroen na die Demokratiese Republiek vand die Kongo verdwyn, het hul maatskappy Sondag gesê.
Australië se Sundance Resources het gesê die betrokke huurvliegtuig het nie Saterdag by sy bestemming in die Kongo aangekom nie en is as vermis aangemeld.
“Die vliegtuig het nege passasiers aan boord gehad, hoofsaaklik van Sundance Resources,” het die maatskappy in ‘n verklaring gesê. Die personeel het die maatskappy se ystererts-projek in Kameroen en die Kongo besoek.
“‘n Omvattende lug- en grondsoektog, gekoördineer deur die Kameroen-weermag, sal met eerste lig Sondag begin. ‘n Kongolese vliegtuig sal ook gebruik word in die soektog na die vermisde vliegtuig.”
Die maatskappy sal later nog inligting bekend maak.
- Sapa