Vliegtuig maak noodlanding in Pakistan
2012-07-09 15:15
Karachi, Pakistan – 'n Air India-vliegtuig, wat vir Nieu-Delhi bestem was, moes Maandag weens tegniese probleme 'n noodlanding in suidelike Pakistan uitvoer, het lugvaartbeamptes gesê.
Die Airbus A320 van Abu Dhabi, met 130 mense aan boord, het 'n ongeskeduleerde stop by die Nawabshah-lughawe, sowat 230 km van die noordoostelike hawestad van Karachi, gemaak, het Pervez George, woordvoerder van die Pakistanse Burgerlugvaart-owerheid gesê.
"'n Groep Indiese tegnici sal teen 11:45 (plaaslike tyd) op 'n ander vliegtuig in Nawabshah aankom. Dié vliegtuig sal dan die passasiers na Nieu-Delhi neem."
Die Indiese kaptein het nie die passasiers toegelaat om van die vliegtuig af te klim nie.
"Ons het ons volle samewerking aan hulle gegee, maar die Airbus-kaptein het nie die passasiers toegelaat om van die vliegtuig af te klim nie, en het slegs drinkwater gevra," het Sultan Hasan, woordvoerder van die staatsbeheerde Pakistan International Airlines, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP