Vliegramp in Rusland 'kon vermy gewees het'
2011-09-09 09:08
Yaroslavl - Rusland was Donderdag in rou gedompel ná die vliegramp waarin lede van ’n Russiese yshokkiespan Woensdag dood is.
Altesaam 43 mense is dood toe ’n Yak-42-vliegtuig, wat die Lokomotiv Yaroslavl-yshokkiespan vervoer het, 300 km noordoos van Moskou geval het. Twee mense het oorleef en is in ’n kritieke toestand. Teen Donderdagoggend is 43 lyke al uit die Wolgarivier gehaal.
Die tuig, wat in 1993 vervaardig is, sou volgende jaar uit diens gestel word.
Pres. Dmitry Medvedev het Donderdag geëis het dat die reeks vliegongelukke in die land stopgesit word. Hy het op ’n besoek aan die ongelukstoneel gesê Rusland kan nie meer ly weens vliegongelukke wat klaarblyklik vermy kon gewees het nie. Hy het bygevoeg die land sal moontlik meer buitelandse vliegtuie moet gebruik.
“Ek het die ondersoekkomitee en die regering opdrag gegee om ’n omvattende ondersoek te doen. Ons kan nie so voortgaan nie,” het hy aan topamptenare gesê.
Dit volg op talle sterftes in verskeie vliegtuigongelukke in dié land die laaste paar maande.
Amptenare het voorlopig Woensdag se ramp aan ’n menslike fout toegeskryf.
Die ramp het gebeur aan die vooraand van Medvedev se besoek aan Yaroslavl om ’n politieke beraad toe te spreek in die arena waar die yshokkietoernooi gehou word.
Ondersteuners het die arena in ’n bedevaartplek omskep waar rose en serpe van die span geplaas is om die span te huldig. – Sapa-AFP
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger