Vlieënier tronk toe oor hy staatsgeheime wou verkoop
2011-12-14 23:01
Den Haag – 'n Duitse hof het Woensdag 'n voormalige F-16 vegvlieënier tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy probeer het om staatsgeheime aan 'n Russiese diplomaat te verkoop.
"Die hof het vandag (Woensdag) die 37-jarige voormalige vegvlieënier tot vyf jaar tronkstraf gevonnis," het die Den Haag distrikshof in 'n verklaring, wat aanlyn gepubliseer is, gesê.
Daar is bewys dat die voormalige kaptein, vir wie die hof slegs as "Chris V" kon ïdentifiseer, "geheime dokumente op 'n rekenaar en op 'n CD-ROM gehad het... En hy was besig om 'n ooreenkoms aan te gaan om dit aan buitelandse magte te verkoop in ruil vir 'n aansienlike bedrag geld."
Volgens die hof het "Chris V" probeer om dié geheime inligting vir $650 000 (sowat R5 miljoen) te verkoop toe hy op 17 Maart in hegtenis geneem is.
Die dokumente het inligting bevat oor die radiofrekwensies en die taktiese hantering en karaktereienskappe van die F-16 in vegsituasies.
"Die hof kan dus tot die gevolgtrekking kom dat die inligting teen die F-16 gebruik kon word.
"Die verdagte moes dit as 'n voormalige beampte van die lugmag besef het."
Die Russiese diplomaat en die vlieënier het volgens die hof verskeie kere ontmoet.
Die voormalige kaptein het die Duitse lugmag in 2010 ná 13 jaar verlaat.
Volgens die De Telegraaf koerant was die vlieënier in finansiële moeilikheid ten tyde van sy inhegtenisneming.
"Daarvoor het die verdagte, vir sy eie finansële voordeel en om hom uit sy finansiële verknorsing te help, hom bo die veiligheid en besorgdheid van die staat en sy mede-burgers geplaas," het die hof gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP