Virginia Tech-skieter dood gevind
2011-12-09 12:07
Blacksburg – ‘n Gewapende man wat ‘n polisieman by die Virginia Tech-universiteit doodgeskiet het, se lyk is ná die dodelike voorval gevind.
Die man het Donderdag 'n polisiebeampte by die Virginia Tech-universiteit in Blacksburg, Virginia, doodgeskiet.
Die skieter is aanvanklik as ‘n wit man in ‘n dieprooi sweetpak-top en grys sweetpakbroek beskryf.
Die gewapende man het die polisiebeampte geskiet toe hy hom by ‘n parkeerterrein naby die universiteit se gimnasium voorgekeer het.
‘n Polisiebeampte het bevestig dat die gewapende man dood is. Hy wou nie verder uitbrei oor die gebeure nie.
Dit wil voorkom of die skieter by ‘n ander skool se parkeerterrein gesterf het.
Beamptes het aanvanklik gesê ‘n tweede slagoffer se lyk is gevind. Die polisie wou op ‘n mediakonferensie nie bevestig of die tweede lyk die gewapende man s'n was nie.
Virginia Tech is dieselfde universiteit waar 32 mense in 2007 deur een van die universiteit se studente, Seung-Hui Cho (23), doodgeskiet is. Daarna het die skieter sy eie lewe geneem.
Volg Nuus24 op Twitter
- AP