Viëtnam vervaardig eie 'doodspuit'
2013-01-24 08:22
Hanoi – Viëtnam sal voortaan sy eie chemiese middel vir teregstellings produseer nadat fabrieke in die Europese Unie die verskeping daarvan gestaak het weens teenkanting teen die doodstraf, het die Associated Press Donderdag berig.
Dié land het die gebruik van vuurpelotons in 2011 gestaak weens kommer dat dit die soldate traumatiseer. Die regering het verlede jaar gesê 532 mense kon nie tereggestel word nie omdat middels vir die dodelike inspuiting nie beskikbaar is nie.
Volgens 'n berig in die Laborer-koerant het die minister van openbare sekuriteit, Tran Dai Quang, gesê Viëtnam sal sy eie middels vervaardig. Die berig het nie verdere inligting gegee nie.
Fabrieke in die Europese Unie is die hoofverskaffer van chemiese middels vir teregstellings.
Verskeie state in Amerika beweer ook dat besware van EU-fabrieke dit moeilik maak om die middels te bekom.
Volg Nuus24 op Twiter.
- Sapa - AP