Viëtnam: Man erken moord op skoonsuster
2012-01-16 12:37
Hanoi – ‘n Man in Viëtnam het erken dat hy ‘n bom op ‘n motorfiets geplant het wat die lewens van sy skoonsuster en haar vierjarige dogter geëis het, het amptenare Maandag gesê.
Nguyen Duc Tiem (34) is Vrydag in hegtenis geneem op aanklag van die moorde, meer as ‘n maand ná die ontploffing in die noordelike provinsie van Bac Ninh plaasgevind het, het die polisie gesê.
“Hy was so wreed dat hy sy skoonsuster en haar dogtertjie oor alledaagse kleinighede vermoor het, selfs al het hy geweet sy is swanger,” het kol. Nguyen Dang Loi, die direkteur van Bac Ninh se provinsiale polisiedepartement, aan DPA gesê.
“Die verdagte het skuld beken.”
Nguyen Thi Quynh (30) en haar dogter Nguyen Khanh Van is op 1 Desember dood.
Tiem, wat langs sy skoonsuster gewoon het, het geïrriteerd met haar geraak omdat sy haar motorfiets vroeg in die oggend aangeskakel het en hom wakker gemaak het. Hy het ook met haar baklei oor kleinighede, het die polisie gesê.
Quynh is op die toneel in die ontploffing dood, terwyl haar dogter 13 dae later in die hospitaal dood is.
Tiem word ook daarvan verdink dat hy in Junie 2010 ‘n bom aan ‘n vriend se motorfiets vasgemaak het, nadat hy gedink het die man het ‘n verhouding met sy vrou. Die man het sy been in die ontploffing verloor.
Tiem kan die doodstraf ontvang indien hy skuldig bevind word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA