Vier vermis ná ontploffing by fabriek
2011-04-20 23:00
Praag - 'n Groot nitrogliserien-ontploffing wat Woensdag by ‘n fabriek in die Tsjeggiese Republiek gebeur het, het nege mense beseer en vier vermis gelaat, het beamptes gesê.
Die ontploffing het een gebou by die aanleg verwoes en vensters in ‘n groot gebied in die fasiliteit uitgeslaan.
Die fabriek vervaardig plofstof vir klante, wat onder meer die Tsjeggiese weermag insluit, het ‘n woordvoerder van die brandweer, Vendula Horakova, gesê.
Helena Skuligova, ‘n woordvoerder van die reddingsdienste, het gesê dit is onwaarskynlik dat die vier vermiste personeellede die ontploffing oorleef het.
Volgens Jaroslava Dolezalova, ‘n woordvoerder van die Explosia AS-aanleg in Pardubice, ‘n dorp ongeveer 100 kilometer oos van Praag, het die ontploffing omstreeks 07:00 gebeur.
Sy het gesê nie een van die nege beseerdes is ernstig beseer nie, maar dat daar ‘n moontlikheid van nog ontploffings is.
Volgens Horakova word die oorsaak van die ontploffing nog ondersoek.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP