Vier vermis ná noodoproep op seilboot
2013-02-25 13:04
Kalifornië – Twee volwassenes en twee kinders is vermis nadat hulle Sondag ‘n noodoproep gemaak het toe hulle met hul seilboot aan die Kaliforniese kus suid van San Francisco in die moeilikheid beland het, het die Amerikaanse kuswag gesê.
Die seilboot was sowat 105 km van die kus van Pillar Point by die noordelike punt van Half Moon Bay toe ‘n lid van die bemanning laat Sondagmiddag in radiokontak getree het om te sê daar is ‘n lekkasie, het die kuswag gesê. Elektroniese toerusting op die seiljag het ook glo probleme gegee.
Die seilboot se skipper het sowat ‘n uur later gesê die vier mense aan boord, waaronder twee kinders onder die ouderdom van agt, gaan die seilboot verlaat. Die kuswag het daarna radiokontak met hulle verloor.
Die kuswag het in ‘n verklaring gesê die vier mense is moontlik op ‘n tydelike reddingsvaartuig, maar hulle lot is onbekend.
Die plaaslike televisiestasie, KTVU, het berig dat die slagoffers nie reddingsbote gehad het nie en dat hulle items saamgebind het sodat hulle iets het om op te dryf totdat hulle gered kon word.
Soekgeselskappe van die kuswag het per boot en helikopter verskeie onsuksesvolle soektogte in die gebied gedoen en bykomende reddingswerkers sou by die soektog aansluit, het die agentskap in sy verklaring gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters