Vier vas vir geslagsverminking in Aus
2012-09-14 09:00
Sydney – Verskeie gevalle van geslagsverminking by vroue vind waarskynlik in Australië plaas sonder dat dit aangemeld word, het ‘n staatsminister Vrydag gesê.
Dit kom nadat vier mense aangekla is oor die vermeende besnydenis van twee meisies wat onderskeidelik ses en sewe jaar oud is.
Twee mans en twee vroue is Donderdag aangekla oor hul betrokkenheid by die vermeende verminking van die meisies in Sydney in die afgelope 18 maande.
Pru Goward, die minister vir familie en gemeenskapsveiligheid in Nieu-Suid-Wallis, sê die praktyk is moeilik om op te tel.
“Die verskoning wat gereeld gebruik word, is dat dit ‘n godsdienstige praktyk is en dit sal nie die eerste keer wees wat godsdiens gebruik word om vroue te beskadig of besny nie,” het sy aan ABC-radio gesê.
Goward sê dit is waarskynlik dat baie gevalle in Nieu-Suid-Wallis, die land se mees digbevolkte staat, nie aangemeld word nie.
“Ons het waarskynlik die mees gediversifiseerde gemeenskap in Australië en baie van hulle is afkomstig van lande waar dit uitgeoefen word.”
‘n Agt-en-sestigjarige afgetrede verpleegster, wat glo die dade uitgevoer het, is aangekla. Dit is die eerste keer wat iemand aangekla word van die oortreding sedert die wet in 1994 in die staat ingestel is.
‘n Sjeik in Sydney wat die Dawoodi Bohra sub-sekte van Islam volg, is aangekla as ‘n medepligtige.
Twee ander mense, ‘n man en ‘n vrou, is ook aangekla.
Die polisie wou nie sê of hulle die meisies se ouers is nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP