Vier vas oor Saddam-familie se wapens
2012-12-21 11:09
Washington – Vier mans is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle glo wapens van die voormalige Irakse president Saddam Hussein se familie wou verkoop.
Die pistole, haelgewere en rewolwers is na raming tussen sowat R2,1 miljoen en R2,5 miljoen werd.
Die verdagtes is daarvan beskuldig dat hulle probeer het om 'n koper vir die wapens in New Jersey te kry. Volgens die polisie is die wapens in Florida gestoor.
Owerhede het in April 'n wenk ontvang dat die wapens te koop is.
Jabir Habeb, Irak se ambassadeur aan die Verenigde State, het in Oktober bevestig dat die wapens aan die Republiek van Irak behoort.
Dit is bekend waar die wapens vandaan kom of hoe dit gesteel is nie.
Die verdagtes is geïdentifiseer as David Ryan (48) van Miami, Karlo Sauer (42) van Pittsburgh, Howard Blumenthal (74) van Fort Lee, New Jersey en Carola Quirola (55) van New Milford, New Jersey.
Die mans staan tereg op aanklagte van sameswering om gesteelde vuurwapens te vervoer en die sameswering om gesteelde eiendom te ontvang en verkoop.
Indien hulle skuldig bevind word, kan hulle elk 'n maksimumvonnis van vyfjaar tronkstraf en 'n boete van $250 000 (sowat R2,1 miljoen) opgelê word.
Die mans het Donderdag in die hof verskyn.
– Volg Nuus24 op
Twitter
- Reuters