Vier dood ná lugballon in Slowenië neerstort
2012-08-23 14:40
Ljubljana – Minstens vier mense is dood en 28 ander is beseer, waaronder ses ernstig, toe 'n lugballon Donderdag in Slowenië neergestort en aan die brand geslaan het, het die polisie gesê.
"Die beseerde passasiers is na verskeie hospitale geneem so ons het nog nie al die inligting nie," het Maja Adlesic, 'n polisiewoordvoerder, aan AFP gesê.
Die Sloweense nuusagentskap STA het berig dat minstens vier passasiers dood is nadat die ballon 'n boom getref en in vlamme uitgebars het.
Die lyke van die slagoffers is intussen gevind, terwyl ses kinders onder diegene is wat beserings opgedoen het, het Sky News berig.
Daar was altesaam 32 passasiers, waaronder buitelandse en plaaslike toeriste asook 'n vlieënier en mede-vlieënier, in die lugballon wat om 08:00 plaaslike tyd suid van die hoofstad Ljubljana neergestort het.
Die ballon was steeds aan die brand toe branweermanne op die toneel aangekom het, het Tomaz Kucic, brandweerhoof, aan STA gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP