Vier Sweedse toeriste sterf in ongeluk
2012-02-02 11:55
Bangkok – Vier jong Sweedse toeriste en hul bestuurder is dood nadat die gehuurde motor waarin hulle gereis het in 'n kop-aan-kop botsing met 'n vragmotor betrokke was.
Die ongeluk het Woensdag naby die eiland Phoeket in Thailand plaasgevind, het die polisie Donderdag gesê.
Twee paartjies, almal in hul vroeë twintigs, is op slag dood saam met hul 26-jarige bestuurder van Thailand.
Die bestuurder van die vragmotor het van die toneel gevlug en word deur die polisie gesoek.
Die vakansiegangers het na Chumphon-provinsie in Thailand gereis, om te gaan duik, toe die vragmotor oor die pad geswaai en hul voertuig getref het.
Die Sweedse ambassade in Bangkok het bevestig dat die familie van die vier toeriste in kennis gestel is van die ongeluk.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP