Video van baba voor trein ontstel ma
2009-10-18 08:00
Melbourne - Die ma van 'n Australiese baba wat 'n botsing met 'n trein wonderbaarlik oorleef het, herstel nog van die skok en raak ontsteld deur beeldmateriaal van die ongeluk.
Die ses maande oue baba was Donderdag by Melbourne se Ashburton-stasie in 'n stootwaentjie vasgemaak wat weggerol het van sy ma af, reg voor 'n aankomende trein in.
Die bestuurder het rem getrap, maar kon nie anders as om in die waentjie vas te ry nie, en die waentjie is sowat 35 m ver gestoot. Die baba het dit oorleef met net 'n knop op sy kop.
Die insident is deur veiligheidskameras vasgevang en die video maak wêreldwyd opslae. Selfs Oprah Winfrey het die polisie gekontak om 'n onderhoud met die baba se ma te voer.
Volgens die baba se pa het sy vrou die beeldmateriaal gesien wat wys hoe die waentjie weggly en hoe die vrou amper self deur die trein raakgery word soos wat sy haar baba probeer red.
"My vrou het dit gesien, maar raak elke keer baie ontsteld," het die man aan die Sunday Herald Sun gesê.
"My vrou is baie gespanne. Ons is almal oukei, maar ons het regtig net 'n bietjie tyd nodig om dit te verwerk."
Volgens paramedici het die feit dat die baba vasgegespe was, waarskynlik sy lewe gered.
- Sapa-AFP