Vet man spring doodstraf vry
2012-12-18 11:57
Washington – 'n Veroordeelde moordenaar, wat aan vetsug ly, is van teregstelling gered nadat die goewerneur van Ohio beslis het dat hy nie voldoende regshulp ontvang het nie.
Ronald Post (53) weeg meer as 220 kg.
Sy prokureurs het aangevoer dat 'n dodelike inspuiting "martelend en langdurig" sal wees weens sy gewig.
Die regspan het gesê dat die inspuiting hul kliënt straks nie sal doodmaak nie, of dat dit tot 16 ure sal neem om in werking te tree.
Post is ter dood veroordeel nadat hy 'n hotelwerker tydens 'n gewapende rooftog doodgeskiet het.
Ohio se goewerneur, John Kasich, het egter nie die gewigskwessie genoem toe hy Maandag aangekondig het dat Post nie op 16 Januarie tereggestel moet word nie.
"Ongeag die afskuwelike daad wat gepleeg is, is hy geregtig op doeltreffende verdediging, veral in die geval van 'n saak waar die doodsvonnis opgelê kan word," het Kasich in 'n verklaring gesê.
Kasich het Post egter nie kwytgeskel of vir 'n herverhoor gevra nie.
"Daarom beveel ek dat hy die res van sy lewe in die tronk deurbring sonder die moontlikheid van parool," het Kasich gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA