Verwarring oor Taliban-leierskap
2009-08-09 08:50
Islamabad - Pakistan se Taliban blyk in verwarring te wees ná gerugte van ’n dodelike skietgeveg tussen aanspraakmakers op dié beweging se leierskap.
Intelligensiebeamptes het Vrydag gesê die beweging se vorige leier, Baitullah Mehsud, is glo in ’n Amerikaanse lugaanval dood. Die regering moet dit nog bevestig.
Daar was ’n losprys van $5 miljoen dollar (ongeveer R40 miljoen) op Mehsud se kop.
Daar is gerugte van ’n dodelike skietgeveg tydens ’n vergadering van die Taliban se top bevelvoerders in Suid-Wazirista.
Hulle sou glo ’n opvolger vir Mehsud kies.
Volgens Rehman Malik, hoof van die ministerie van binnelandse sake, word dit ondersoek.
“Ons het gerugte gehoor dat daar ’n geveg was tussen Wali-ur Reham en Hakimullah... Ek het vroeër gesê een van hulle is dood. Ek sal nie die naam bekend maak nie. Ek wag vir bevestiging,” het hy aan ’n televisiekanaal in Pakistan gesê.
Hakimullah Mehsud was Baitullah Mehsud se adjunk en sy hoof-woordvoerder.
Wali-ur Rehman was senior bevelvoerder in een van Mehsud se bewegings.
Veiligheidsontleder Hasan Askari waarsku egter dat die bedreiging ten spyte van hierdie verwarring nog nie verby is nie en het gesê Pakistanse owerhede moet weer beheer in die stamgebiede verkry.
- AP