Vervaardiger wil data-opnemers vervang
2009-09-04 11:02
Parys - Die Europese vliegtuigvervaardiger Airbus wil die vlugdata-opnemers in vliegtuie met 'n meer doeltreffende stelsel te vervang.
"Om vlugveiligheid verder in die toekoms te verbeter, moet ons seker wees dat ons al die inligting van die vlug kan opspoor as daar 'n ongeluk is," het Thomas Enders, uitvoerende hoof van Airbus, Vrydag gesê.
"Die belangrikste vlugdata kan byvoorbeeld in werklike tyd via satelliet oorgedra word soos dit nou die geval is met inligting oor vliegtuigonderhoud."
Airbus het in Junie die moontlikheid van 'n data-opnemer wat in werklike tyd inligting oordra, voorgestel, maar vlieëniers was ontevrede hieroor. Hulle het gesê dit maak inbraak op hul privaatheid.
Dié stelsel word heroorweeg omdat 'n taakspan nie die vlugdata-opnemers van die Airbus-A330 van die lugdiens Air France wat op 1 Junie in die see gestort het, kon opspoor nie.
Die 228 mense wat aan boord die vliegtuig was, is dood.
Die wrak van dié vliegtuig en die twee vlugdata-opnemers is moeilik om op te spoor omdat dit glo in 'n bergagtige streek op die seebodem lê.
– Sapa-dpa