Verslankingsmiddel in VSA verbied
2011-12-09 08:00
Pretoria – Verslankingsmiddels met die sogenaamde HCG-hormoon wat oor die toonbank gekoop kan word, moet in Amerika van die mark af.
Die Amerikaanse kos-en-medisyne-owerheid (FDA) het vandeesweek waarskuwingsbriewe gestuur aan verskeie maatskappye wat dié middels as homeopatiese dieetmiddels daar bemark.
Dié soort produkte word ook in Suid-Afrika bemark, veral op die internet en met beloftes dat dit binne sewe tot tien dae afgelewer kan word.
Choriongonadotropien (HCG) word in die plasenta geproduseer en kom ook voor in die urien van ’n swanger vrou. Dit is dié hormoon wat in swangerskaptoetse gemeet word.
In Amerika is ’n HCG-inspuiting as voorskrifmedisyne geregistreer vir die behandeling van onder meer onvrugbaarheid.
Die FDA het in ’n verklaring gesê daar is geen HCG-middel vir verslanking by hom geregistreer nie en dié wat dit as sulks bemark, oortree die wet.
Die owerheid sê die produkte word saam met diëte bemark. Dit is waarskynlik waarom mense daarmee gewig verloor.
Volgens die FDA is daar geen bewyse dat HCG mense gewig kan laat verloor nie.
Die produk word in druppelvorm op die internet bemark. Daar is ook verslankingsprogramme in Suid-Afrika waar dokters dit inspuit vir verslanking.
Navorsers aan die Universiteit van Stellenbosch het reeds in 1990 ’n studie in die South African Medical Journal oor HCG-inspuitings gepubliseer.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad