Verpleër tronk toe wat selfmoord aanmoedig
2011-05-05 21:34
Fairbault (Minnesota, Amerika) - ‘n Amerikaanse verpleër wat ‘n Kanadese vrou en ‘n Britse man in aanlyn-gesprekke aangemoedig het om selfmoord te pleeg, is tot 360 dae tronkstraf gevonnis.
Dit sluit twee dae ‘n jaar vir die volgende dekade, as herdenking van sy slagoffers se sterftes, in.
William Melchert-Dinkel (48) het dikwels in aanlyn-gesprekke aan mense voorgestel dat hulle hulself voor ‘n webkamera hang sodat hy kan kyk hoe hulle sterf, het hofrekords getoon.
Daar is geen bewyse dat enigiemand dit gedoen het nie, maar die polisie het gevind dat hy met minstens 10 mense met selfmoordneigings, insluitende vyf wat wel selfmoord gepleeg het, aanlyn-gesprekke gevoer het.
Hy is spesifiek aangekla vir sy rol in die selfmoorde van Mark Drybrough (32), wat homself in 2005 in Engeland opgehang het, en Nadia Kajouiji, ‘n 18-jarige meisie wat van ‘n brug in Ottawa gespring het.
Melchert-Dinkel het aan die polisie erken hy het homself as ‘n vroulike verpleegster voorgehou op die gespreksforums vir depressiewe mense en sy optrede as “die opwinding van die jaagtog” bestempel.
“Ek hoop ek kan jou help op enige manier wat ek kan,” het Melchert-Dinkel aan Kajouijie geskryf in ‘n selfmoord-ooreenkoms. Sy het teruggeskryf: “Ons is saam hierin.”
Melchert-Dinkel het geantwoord: “Ja, ons is.”
Regter Thomas Neuville het gesê die voormalige verpleër het “met opset sy slagoffers aangeraai en aangemoedig” om selfmoord te pleeg. Hy is skuldig bevind ingevolge die wet in Minnesota wat bystand vir selfmoord verbied.
Melchert-Dinkel beplan om appèl aan te teken.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP