'Gaddafi het gekry wat hy verdien'
2011-10-20 20:59
Sofia – Die Bulgaarse verpleegsters wat vir agt jaar in
Libië gevangene gehou is in verrband met ‘n MIV-skandaal, het die nuus van
Muammar Gaddafi se dood verwelkom.
“Die nuus het my met blykskap gevul. Dis ‘n straf. ’n Hond soos hy verdien om soos ‘n hond dood
te gaan,” het Valya Chervenyashka gesê.
Vyf Bulgaarse verpleegsters en ‘n Palestynse
dokter is in 1999 in Libië in hegtenis geneem nadat hulle daarvan beskuldig is dat hulle verantwoordelik was vir 'n MIV-epidemie by 'n kinderhospitaal in Bhenghazi.
Hulle is gedurende Muammar Gaddafi se bewind
gemartel en twee keer die doodsvonnis opgelê.
“Hy’t
gekry wat hy verdien,” het een van die verpleegsters, Valentina Siropolu, gesê.
Die vyf verpleegsters en die dokter is in 2007
vrygelaat.
Twee van die verpleegsters, Kristiana Valcheva en Snezhana
Dimitrova, het egter aangedui dat hulle “onverskillig” is oor die diktator se dood.
“Ek sou ook bly gewees het as hy lewendig
gevang is,” het Valcheva gesê.
Dimitrova het gesê dat sy nie haarself kan
verbly oor ‘n ander se dood nie, selfs al was hy ‘n vyand.
Hulle het wel almal saamgestem oor die feit
dat die nuwe regering hulle moet vryspreek.
Tripoli het in 2007 ingestem om hul vonnisse
na lewenslank te verander, waarna hulle terug is na Bulgarye.
Bulgarye het hulle egter onmiddellik hul
vryheid gegun.
Die vyf verpleegsters en een dokter het as die
“Benghazi ses” bekend geword nadat hulle daarvan beskuldig is dat hulle 438
kinders in Benghazi met MIV-positiewe bloed ingespuit het.
Deskundiges het getuig dat die MIV-epidemie by
die kinderhospitaal in Benghazi waar die verpleegsters en dokter gewerk het,
deur swak higiëniese toestande veroorsaak is.
Volg Nuus24 op Twitter.