Vermiste vrou se man wis gesin uit
2012-02-06 13:01
Washington – Die man van 'n Amerikaanse vrou, wat sedert Desember 2009 vermis word, het homself en hul seuns Sondag in 'n ontploffing by hul huis uitgewis, het die polisie in Washington gesê.
Die ontploffing het gebeur kort nadat 'n maatskaplike werkster die seuns by hul pa, Josh Powell, se huis in die dorp Graham, Washington afgelaai het vir 'n gekontroleerde besoek.
Die maatskaplike werkster is uit die huis geforseer en 'n ontploffing het kort daarna plaasgevind, het Ed Troyer, polisiewoordvoerder, gesê.
Al drie lyke is gevind, en ondersoekbeamptes wag op 'n verslag vanaf die mediese ondersoekbeampte se kantoor, het polisiebeamptes gesê.
Susan Powell is in Desember 2009 as vermis aangemeld.
Haar man, Josh, het aan die polisie gesê sy het vermis geraak terwyl hulle in Utah gaan kamp het.
Josh Powell was aanvanklik by die saak betrek maar hy was nooit in hegtenis geneem nie.
'n Regter het egter verlede week beveel dat sy twee seuns, Charlie (7) en Braden (5), in die sorg van hul oupa en ouma, Chuck en Judy Cox, moet bly.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP