Vermiste swemmer in Aus dalk slagoffer van haai
2011-10-11 09:07
Perth – ‘n Man wat verdwyn het terwyl hy by ‘n gewilde strand in Australië geswem het, is waarskynlik die slagoffer van ‘n witdoodshaai, het die polisie Dinsdag gesê.
Bryn Martin (64) is vroeg Maandagoggend laas gesien toe hy by die Cottesloe-strand in Perth gaan swem het. Hierdie was deel van sy daaglikse roetine.
Polisieduikers het later die dag sy swembroek op die seebodem gevind. Volgens die duikers is die skade aan die swembroek in ooreenstemming met ‘n haai-aanval.
Neil Blair, ‘n plaaslike polisiebeampte, sê die vermiste man se vrou het bevestig dat dit die tipe swembroek is wat haar man gedra het.
Blair het aan verslaggewers gesê kenners vermoed dat ‘n witdoodshaai die skade veroorsaak het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP