Vermiste Fransman se lyk gevind
2011-09-16 17:02
Kathmandu – ‘n 22-jarige Fransman wat drie weke gelede vermis geraak het terwyl hy in die noordooste van Nepal gestap het, se liggaam is gevind.
Hugo Lechevallier het sy hotel in Jiri, sowat 184 km oos van Kathmandu, op 24 Augustus verlaat om in die bergagtige gebied wat as die “Gateway to Everest” bekendstaan te gaan stap.
“Ons het twee weke gelede vier soek- en reddingspanne na verskillende plekke gestuur om na hom te soek,” het ‘n distriksuperintendent Umesh Raj Joshi gesê.
“Een van die spanne het sy lyk in die afgeleë dorp Jhyaku gevind,” het hy gesê.
Volgens die Franse ambassade in Kathmandu was Lechevallier van die stad Lille in die noorde van Frankryk.
Lechevallier het na bewering die raad van plaaslike inwoners om nie in die mistige heuwels wat vol bloedsuiers is, te gaan stap nie, geïgnoreer.
Die oorsaak van sy dood is onbekend.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP