Vermeende rolprentmaker glo geïdentifiseer
2012-09-14 10:00
Washington – Wetgewers het die man agter Innocence of Muslims, die uitlokkende rolprent wat glo beledigend is teenoor Islam en verskeie betogings oor die wêreld tot gevolg gehad het, as ene Nakoula Basseley Nakoula geïdentifiseer.
Nakoula het voorheen erken hy het gehelp om die film te vervaardig, maar het ontken dat hy die regisseur is.
Vorige berigte het ‘n sogenaamde Sam Bacile as die regisseur geïdentifiseer, maar daar was twyfel oor Bacile se ware identiteit.
Selfoonnommers wat van Bacile en Nakoula bekom is, het na dieselfde adres gelei.
Nakoula is in 2010 tot 21 maande tronkstraf gevonnis en moes ‘n boete van $790 000 (R6,5 miljoen) betaal nadat hy aangekla is van bankbedrog.
Volgens 'n bron by die kantoor van die prokureursgeneraal in Los Angeles is Nakoula ook in 1997 in hegtenis geneem op aanklagte dat hy beplan het om metamfetamien (tik) te vervaardig.
Akteurs wat in Innocence of Muslims gespeel het, sê hulle is mislei deur die man wat beweer dat hy Bacile is. Volgens hulle handel die film, soos hulle dit verstaan, nie oor Islam nie.
Een aktrise beweer al die beledigende verwysings is oorgeklank oor die dialoog wat die akteurs werklik gelees het.
Die film was oorspronklik Desert Warriors genoem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP