Vermeende reeksverkragter in Hongkong vasgetrek
2012-03-14 10:07
Hongkong – 'n Vermeende reeksverkragter, wat sy slagoffers deur valse werksonderhoude op die internet gelok het, is in hegtenis geneem, het die Hongkongse polisie Woensdag gesê.
Die 31-jarige man, wat die polisie slegs as Chan geïdentifiseer het, is Maandag gearresteer nadat 'n 17-jarige skoolmeisie beweer het sy is in 'n hotel, waar Chan gereël het om 'n onderhoud met haar te voer, verkrag.
"Ons is besig om vas te stel of daar ander meisies is wat ook bedrieg is. Ons doen 'n beroep op slagoffers om na vore te kom," het 'n polisiewoordvoerder aan AFP gesê.
Volgens beeldmateriaal wat op die verdagte se elektroniese toestelle gevind is, is minstens tien vroue al bedrieg, het die South China Morning Post koerant berig.
Die man het die vroue werk as ontvangsdames belowe.
Die polisie het hom gearresteer nadat 'n vroulike polisiebeampte haarself as 'n werksoeker voorgedoen het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP