Vermeende Nazi-moordenaar in die hof
2009-10-28 14:13
Berlyn – ‘n Vermeende Nazi-sluipmoordenaar, Heinrich Boere, se verhoor sal Woensdag van stapel gestuur word nadat hy glo drie Duitsers tydens Wêreldoorlog II vermoor het.
Boere het reeds erken dat hy die mans doodgemaak het as deel van die Waffen SS-doodbrigade. Die Duitsers is glo tereggestel vir hulle betrokkenheid by aanvalle op Holland tydens die oorlog.
Maar vir meer as ses dekades na die oorlog kon Boere daarin slaag om tronkstraf vry te spring. Hy het voorheen uit ‘n oorlogskamp in Nederland ontsnap en vir ‘n wyle die howe in Duitsland uitoorlê.
Die 88-jarige Boere sal in Aachen in die hof verskyn nadat hy ‘n rol gespeel het in die moorde van ‘n besigheidsman, ‘n apteker en ‘n onskuldige burger.
Hy het by die Waffen SS aangesluit slegs maande nadat Adolf Hitler se magte sy tuisdorp van Maastricht en die res van Nederland oorgeneem het.
Tydens ‘n onderhoud met ‘n koerant in 2007 het Boere verduidelik waarom hy die moorde gepleeg het. “Dit was ‘n ander tyd, met ander reëls.”
Sy prokureur, Gordin Christiansen, wou nie kommentaar lewer alvorens die saak begin het nie.
–AP