Verlamde model se pa help haar sterf
2012-10-09 07:06
Zagreb – 'n Pa van Kroasië wat nie langer sy verlamde dogter se lyding kon verduur nie, het haar gehelp om te sterf en toe probeer selfmoord pleeg, het die staatsnuusagentskap Hina berig.
Die man van Sisak, naby die hoofstad Zagreb, het sy 23-jarige dogter, wat al meer as drie jaar bedlêend is, 'n "groot aantal" ongespesifiseerde pille ingegee en een van haar polse gesny, het die polisie gesê.
Hy het toe probeer selfmoord pleeg en is later in 'n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem, het die agentskap verder berig.
Bure het die polisie en nooddienste ontbied, maar die dogter het met haar aankoms by die hospitaal gesterf.
Die plaaslike media het berig dat die jong vrou drie jaar gelede "heeltemal verlam" geword het nadat sy 'n breinoperasie ondergaan het om knaende hoofpyne te genees.
Sy was voor die operasie 'n model, het bure aan die Jutarnji-koerant gesê.
Genadedood word in Kroasië as tweedegraadse moord beskou en 'n skuldige kan tot agt jaar tronkstraf opgelê word.
'n Nuwe kriminele wet, wat vanaf Januarie 2013 van krag is, verbied ook genadedood, maar korter vonnisse van tot drie jaar tronkstraf kan opgelê word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP