Verkoolde oorskot wel dié van VSA-skieter
2013-02-15 11:32
Big Bear Lake – Die verkoolde oorskot wat in ‘n berghut in Kalifornië gevind is, is geïdentifiseer as dié van ‘n voortvlugtige oud-polisieman wat daarop uit was om wraak neem op die Los Angeles-polisiedepartement te neem.
Die identifikasie is deur middel van Christopher Dorner se tandheelkundige rekords gemaak, het Jodi Miller, ‘n woordvoerder vir die San Bernardino-lykskouer, gesê.
Miller het nie die oorsaak van sy dood gegee nie.
Die soektog na Dorner het verlede week begin toe hy glo ‘n wraakaanval op die polisie uitgevoer het nadat hy vyf jaar gelede afgedank is.
Die soektog het die polisie na Big Bear Lake, 129 km oos van Los Angeles, gelei, waar hulle Dorner se uitgebrande, verlate bakkie gevind het.
Sy voetspore het op die gevriesde grond verdwyn en honderde polisiebeamptes wat in die gebied ontplooi was, het in elke gebou gesoek, maar kon hom nie vind nie.
Intussen het twee inwoners gesê Dorner was in hulle huis, slegs ‘n klipgooi van waar beamptes ‘n tydelike basis opgestel het.
Karen en Jim Reynolds het beweer Dorner het hulle vasgebind en kussingslope oor hulle koppe getrek. In ‘n stadium het hy gesê hy is al vir dae daar.
“Hy het gesê ‘ek het nie ‘n probleem met julle nie, so ek gaan julle nie seermaak nie,’” het Jim gesê.
“Ek het hom nie geglo nie. Ek het gedink hy gaan ons vermoor.”
Die polisie het nie kommentaar gelewer oor die Reynoldse se bewering nie, maar vrae is geopper oor die deeglikheid van die polise se soektog.
“Hulle het gesê hulle het van deur na deur gegaan, maar hy is hier, reg onder hul neuse. Dit laat jou wonder of die polisie ooit geweet het wat hulle doen,” het ‘n inwoner, Shannon Schroepfer, gesê.
“Hy het seker daar gesit en die heeltyd vir hulle gelag.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP