Verkoolde oorskot waarskynlik dié van VSA-skieter
2013-02-13 17:47
Los Angeles – ‘n Verkoolde lyk is in die afgebrande berghut in Kalifornië gevind waar die polisie na die oud-polisiebeampte Christopher Dorner gesoek het, het beamptes Woensdag gesê.
Die lyk is nog nie geïdentifiseer nie en sal vir forensiese toetse gestuur word, het die San Bernardin-polisiekantoor gesê, berig CNN.
Dorner is vermoedelik die man wat by die hut in ‘n skietery met die polisie betrokke was. Een beampte is dood en ‘n ander is beseer in die skietery. Die hut het ure later aan die brand geraak toe die polisie dit binnegestorm en rooktoestelle geaktiveer het.
“Ons weet iemand is in die huis en ons vermoed dit is Christopher Dorner,” het Cindy Bachman, ‘n woordvoerder vir die polisiekantoor, vroeër gesê.
Dorner het verlede week gevlug nadat hy drie mense, insluitend ‘n polisieman, doodgeskiet het.
Volgens beamptes het hy probeer wraak neem nadat hy, volgens hom, onregverdig uit die Los Angeles-polisiedepartement geskors is toe hy ‘n kollega aangemeld het wat glo oormatige geweld gebruik het.
Die polisie het aanvanklik gesê die smeulende puin van die hut sal vir ure te warm wees om te ondersoek, maar hulle is vol vertroue dat die verdagte dood is.
Volgens vroeëre berigte het beamptes ‘n enkele skoot binne die hut gehoor voordat dit aan die brand geslaan het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA