Verkiesings te midde terreur
2009-08-20 08:41
Kaboel – Afghaanse burgers staan in klein getalle tou by stembusse, ten spyte van sporadiese aanvalle regoor Afganistan.
Die tweede onafhanklike presidensiële verkiesing het Donderdag in die oorloggeteisterde land begin.
Verskeie bomaanvalle is die afgelope paar dae geloods en Taliban-vegters het gedreig om die verkiesing te ontwrig.
Die Verenigde Nasies (VN) het egter gesê ‘n belowende aantal kiesers besoek wel die land se stembusse.
“’n Groot aantal stemlokale is oop en het stembriewe ontvang,” het Aleem Siddique, woordvoerder vir die VN, gesê.
“Daar was ‘n reeks aanvalle, veral in die suide en ooste van die land,” het Siddique gesê. Maar ten spyte daarvan was kiesers in klein getalle besig om rye by stemlokale in die noorde en ooste, en veral in Kaboel, Afganistan se hoofstad, te vorm.
- Reuters