Vergiftigde melk glo aan wrok te wyte
2011-04-12 22:00
Beijing - Die staat se media in China sê die polisie verdink ‘n paartjie in die noordweste van dié land daarvan dat hulle die melk van ‘n plaaslike boer vergiftig het.
Dié vergiftiging het tot drie sterftes gelei en is glo te wyte aan die paartjie se woede oor onopgeloste besigheidsdispute.
Die polisie het aan die Xinhau-nuusagentskap gesê hulle het salpetersuursout in die melk van Ma Wenxuan se plaas naby die stad Pingliang in die Gansu-provinsie gevind. Salpetersuursout kan giftig wees.
Volgens die polisie het ‘n man, met die van Wu, en sy vrou, met die van Ma, die melk vergiftig omdat hulle vir die boer kwaad is oor onopgeloste besigheidsdispute.
‘n Maand-oue baba en twee kinders van jonger as twee jaar is dood. Nog 36 mense, meestal kinders, het siek geword.
China is die afgelope paar jaar geteister deur ‘n reeks voedselveiligheid-skandale. Die regering het voet neergesit ná ‘n onlangse skandaal waarin gevind is die industriële chemiese stof melamien is by melkprodukte gevoeg.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP