Veiligheidsraad veroordeel lansering
2012-12-13 07:30
New York – Die VN se Veiligheidsraad het Woensdag die omstrede lansering van 'n vuurpyl deur Noord-Korea veroordeel.
Die Veiligheidsraad het 'n noodvergadering gehou ná die Noorde, wat reeds onder sanksies gebuk gaan vir kerntoetse in 2006 en 2009, die internasionale gemeenskap geïgnoreer het, en voortgegaan het met die lansering van 'n vuurpyl.
Die vuurpyl is volgens Noord-Korea slegs gebruik om 'n satelliet in 'n wentelbaan om die aarde te plaas, hoewel ander moondhede vrees dit is slegs 'n front vir toetse vir missieltegnologie.
"Lede van die Veiligheidsraad het hierdie lansering veroordeel, wat 'n duidelike oortreding is van die Veiligheidsraad se resolusie 1718 en 1874," het 'n verklaring gelui wat ná die vergadering uitgereik is.
"Lede van die Veiligheidsraad sal voortgaan met samesprekings oor 'n gepaste reaksie," het die verklaring gelui.
Die Verenigde State het ook die geleentheid aangegryp om te sê daar moet "gevolge" wees vir die oortreding. Die Amerikaanse ambassadeur in die Verenigde Nasies, Susan Rice, het gesê samesprekings oor die reaksie sal dadelik begin.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA