Vegter in stryd teen borskanker sterf
2011-11-14 08:14
New York – Die vrou wat die pienkstrikkie-veldtog teen borskanker begin het, is dood.
Evelyn Lauder (75), ’n uitvoerende hoof van die kosmetiese reus Estée Lauder Cosmetics, wat deur haar skoonma gestig is, is Saterdag in haar huis in Manhattan, New York, oorlede.
Sy het beswyk weens komplikasies weens eierstokkanker.
Evelyn Lauder het so onlangs as verlede maand nog vertel oor die vroeë dae van die pienkstrikkie-borskankerveldtog. Toe sy daarmee begin het, was dit só onbekend dat mense gedink het die doel daarmee is die bevordering van vigs-bewustheid.
Sy het in 1992 gewerk saam met ’n vriend, Alexandra Penney, voormalige redakteur van die tydskrif Self, om die pienkstrikkie-veldtog te begin.
Dit het klein begin, met Lauder en haar man, Leonard, wat grootliks self die klein strikkies gefinansier het om by winkelsentrums se skoonheidsmiddel-toonbanke aan vroue te gee om hulle daaraan te herinner dat hulle vir bors-ondersoeke moet gaan.
Dit het uitgeloop op geldinsamelingspogings en die amptelike instelling in Amerika van Oktober as Borskankerbewustheidsmaand en R2,64 miljard se skenkings – waarvan R400 miljoen deur Estée Lauder Cosmetics en hul vennote – tot die borskanker-navorsingstigting, wat Evelyn Lauder ook begin het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad