Veerboot met 350 aan boord sink in Papoea-Nieu-Guinee
2012-02-02 07:55
Port Moresby, Papoea-Nieu-Guinee – Reddingswerkers het 50 mense uit die see aan Papoea-Nieu-Guinee se ooskus gepik nadat 'n veerboot met sowat 350 mense aan boord gesink het, het beamptes gesê.
'n Vliegtuig van Australië, drie helikopters en ses skepe fynkam die gebied nadat die MV Rabaul Queen Donderdagoggend gesink het. Die veerboot het vanaf Kimbe na Lae gereis, het die Australiese Maritieme Veiligheidsowerheid in 'n verklaring gesê.
Julia Gillard, premier van Australië, het die voorval as 'n "reuse-tragedie" bestempel.
Daar word geglo dat daar 350 mense aan boord is, maar Papoea-Nieu-Guinee se Maritieme Veiligheidsowerheid sê dié getal is waarskynlik baie minder.
Kapt. Nurur Rahman het gesê hy kan nie bevestig hoeveel mense aan boord is nie, maar "dit is waarskynlik sowat 300".
Die veerboot se operateur kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP