Veerboot: Soektog na oorlewendes wéér afgelas
2012-02-03 16:19
Port Moresby – Meer as 110 mense was teen Vrydag steeds vermis nadat 'n veerboot aan Papoea-Nieu-Guinee se ooskus gesink het.
Reddingswerkers vermoed dié mense mag dalk steeds binne die boot vasgekeer wees.
Slegs een oorlewende is Vrydag gevind, 'n dag nadat 246 mense gered is, het Peter O'Neill, premier, gesê.
Die veerboot, MV Rabaul Queen, het Donderdagoggend in 'n onstuimige see gesink.
Slegte weerstoestande het reddingswerkers gedwing om hul soektog vroeg Vrydag te staak. Die soektog sal weer Saterdag hervat word.
O'Neill wou nie sê of enige lyke gevind is nie.
Kapt. Nurur Rahman van die Maritieme Veiligheidsowerheid het gesê hy het nog nie hoop opgegee dat nog mense lewend gevind sal word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP