'Van Gogh het nie selfmoord gepleeg'
2011-10-17 16:50
Amsterdam – Die kunstenaar Vincent van Gogh het nie selfmoord gepleeg nie, beweer die skrywers van die nuwe biografie Van Gogh: The Life.
Steven Naifeh en Gregory White Smith sê Van Gogh is waarskynlik per ongeluk deur twee seuns wat die kunstenaar geken het, geskiet. Daar word beweer dat dié seuns ‘n vuurwapen gehad het wat foutief was.
Die skrywers het ná ‘n studie van 10 jaar saam met 20 vertalers en navorsers tot hul gevolgtrekking gekom, het die BBC berig.
Die Van Gogh Museum in Amsterdam, Nederland, sê die bewering is “dramaties” en “vol intriges.”
Leo Jansen, kurator van die museum, het egter in ‘n verklaring gesê “talle vrae is steeds nie beantwoord nie.”
Hy meen dis te vroeg om selfmoord heeltemal uit te sluit.
Die kunstenaar het in 1890 op 37-jarige ouderdom in Auvers-sur-Oise, Frankryk, gesterf.
Daar word al jare lank beweer dat hy homself in ‘n koringland geskiet het voordat hy na ‘n herberg teruggekeer het. Hy het later in die herberg gesterf.
Lees meer hier
Volg Nuus24 op Twitter