Vader Kersfees kry trekpas oor vuil grappies
2010-12-08 13:33
Kaapstad – ‘n Winkelsentrum in die VSA het hulle Vader Kersfees in die pad gesteek ná die ou man vuil grappe vertel het, berig Sky News.
Twee van sy ouer besoekers het ‘n klag by die winkelsentrum ingedien.
John Tooney, wat al 20 jaar lank Vader Kersfees by die winkelsentrum speel, sê egter hy is glad nie ‘n “stoute” Sinterklaas nie.
Hy dring daarop aan dat hy sy vuil grappies net in die ore van die grootmense wat op sy knie kom sit, fluister.
“As ek vir ‘n grootmens wat op my knie kom sit vra ‘was jy soet’ en dié antwoord ‘ja’ dan sê ek gewoonlik iets soos ‘haai, dis jammer’,” het die grysaard homself verdedig.
“As hulle vir my vra hoekom ek so gelukkig lyk, dan sê ek dis omdat ek weet waar al die stoute kinders bly.”
Hy dring daarop aan dat hy nooit onvanpaste grappies met kinders maak nie.
Maar Santa John, soos sy aanhangers hom noem, hoef nie te bekommerd te wees nie.
Sedert dié ‘skandaal’ losgebars het, het talle ander winkelsentrums hom al gekontak om by hulle te kom luister na kinders se Kersfees-wense.
Kliek hier vir die volledige storie.
Volg Nuus24 op Twitter.