VSA-weermag help Chinese ná verneukspul
2011-04-18 23:00
El Monte (Kalifornië) - Amerikaanse weermagbeamptes sê hulle reik uit na Chinese gemeenskappe in die Los Angeles-gebied nadat ‘n man in hegtenis geneem is wat hom as ‘n werwer vir die weermag voorgedoen en ongeveer 100 immigrante laat glo het hulle het by die Amerikaanse weermag aangesluit deur hom soveel as $400 (sowat R2 700) elk te gee.
Die weermag het Maandag by ‘n mediakonferensie gesê die gemeenskap sal ingelig word oor hoe om ‘n ware werwer uit te ken.
Die owerhede het Yupeng Deng verlede week in hegtenis geneem. Hy word daarvan aangekla dat hy geld, werk of eiendom onder valse voorwendsels bekom het en dat hy vervalste ID-dokumente verkoop het.
Sy borgtog is op $500 000 (sowat R3,4 miljoen) vasgemaak.
Aanklaers sê Deng het die Chinese immigrante gewerf deur te sê dit sal hul kanse verbeter om groenkaarte en Amerikaanse burgerskap te bekom.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP