VSA soldate dalk vroeër uit Irak
2009-07-29 16:03
Irak – Robert Gates, die VSA se minister van verdediging, het Woensdag Irak se Arabiese en Koerdiese leiers aangemoedig om hulle vete op te los en gesê dat hy Amerikaanse soldate moontlik vroeër gaan onttrek.
Gates het na sy twee-daagse besoek aan Irak vir verslaggewers gesê dat daar “’n klein moontlikheid vir ‘n matige versnelling” van planne is om Amerikaanse soldate hierdie jaar te onttrek.
In gesprekke met die hoof-Amerikaanse bevelvoerder in Irak het hy gesê dat vroeëre onttrekking moontlik is “as gevolg van die manier waarop genl. (Ray) Odierno dinge sien” tydens die afname in geweld en Irak se sekuriteitsmagte wat al hoe meer bevoeg raak.
Volgens die huidige plan sal twee brigades teen die einde van die jaar vertrek en volgens Gates kan “miskien nog een” voor die verkiesings in Januarie onttrek word.
Die spesifieke getal addisionele brigades wat onttrek kan word is nog nie bekend nie, maar een brigade bestaan uit 3000 tot 4000 soldate en hulle word soms bygestaan deur ekstra bemanning.
Daar is 14 brigades in Irak.
- Sapa