VSA sluit ambassade in Sirië
2012-02-06 20:58
Washington – Die VSA het Maandag aangekondig dat die land sy ambassade in die Siriese hoofstad, Damaskus, gesluit het as gevolg van bekommernisse oor die verswakkende veiligheidsituasie in Sirië.
Victoria Nuland, woordvoerder vir die Amerikaanse staatsdepartement, sê die ambassadeur Robert Ford en alle personeellede van die ambassade het Sirië verlaat.
Sy sê die Siriese regime het “daarin misluk om behoorlik te reageer” op die VSA en ander diplomatieke sendings se veiligheidskwessies.
“Die onlangse toename in geweld, insluitende bomaanvalle in Damaskus op 23 Desember en 6 Januarie, het aanleiding gegee tot ernstige kommer dat ons ambassade nie ordentlik teen gewapende aanvalle beskerm word nie,” het Nuland gesê.
Sy sê die verslegtende veiligheidsituasie wys watter “gevaarlike pad” pres. Bashar al-Assad gekies het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA