VSA oorweeg e-verkiesings, maar veiligheid kwel
2010-10-24 10:04
Washington - Nuwe tegnologie, wat kiesers in staat stel om oor die internet te stem, wen veld in die VSA, alhoewel kommer oor die veiligheid van hierdie stelsels toeneem.
Altesaam 33 Amerikaanse state sal kiesers toelaat om in 2010 van e-posse, fakse en aanlynstembriewe gebruik te maak. Hierdie stelsels, wat ook in verskeie ander lande gebruik word, kan moontlik kiesers se deelname verhoog, maar die veiligheid daarvan bly bedenklik.
In September, toe 'n internet-stemstelsel vir Washington getoets is, het 'n span rekenaarwetenskaplikes van die Universiteit van Michigan sommer maklik die stelsel binnegedring en stembriewe verander.
"Dit was vreeslik maklik," het Alex Halderman, die Michigan professor wat die projek saam met sy studente aangepak het, gesê. Halderman het ook ontdek dat ander kuberkrakers van onder meer Iran en China probeer het om dieselfde te doen.
Halderman en ander rekenaarkenners meen hul eksperiment belig die swakpunte in aanlynverkiesings wat nie op die oomblik reggestel kan word nie.
Hierteenoor sê Paul DeGregorio, hoof van verkiesings by die elektroniese verkiesingsfirma Everybody Counts dat internetstelsels kiesers, insluitende dié met gestremdhede en troepe oorsee, bemagtig. Hy sê stelsels in ander lande het wel veiligheidstoetse weerstaan.
- SAPA