VSA 'nie meer lus om Afganistan te help'
2011-06-23 08:05
Johannesburg - Die dood van Osama bin Laden en die verslegtende bande tussen die VSA en Afganistan noop die Obama-regering om binne weke met die onttrekking van sowat 100 000 troepe aan dié oorloggeteisterde land te begin.
Die Amerikaanse ambassadeur in Afganistan, genl. Karl Eikenberry, het aan die vooraand van die onttrekking van die eerste 5 000 Amerikaanse troepe skerp te velde getrek teen pres. Hamid Karzai se toenemende kritiek teen die VSA en ander geallieerde Westerse magte in sy land.
“Wanneer ons hoor hoe ons ’n besettingsmag genoem word en ons gulhartige skenkings van hulp as ondoeltreffend en die bron van alle korrupsie in Afganistan afgemaak word, word ons eer aangetas en verloor ons ons lus om voort te gaan,” het Eikenberry in Kaboel gesê.
Hy het gereageer op Karzai se stelling verlede week dat Afganistan as ’n “vennoot en nie ’n besette gebied (van die VSA) nie” behandel moet word.
Eikenberry, vroeër bevelvoerder van die Amerikaanse magte in Afganistan, se kritiek teen die Karzai-bewind is Woensdagaand gevolg deur Obama se aankondiging dat meer as 10 000 Amerikaanse soldate voor die einde van die jaar onttrek sal word.
Tussen 30 000 en 40 000 sal teen die einde van 2012 in die VSA terug wees. Die volle Amerikaanse mag, wat Obama 18 maande gelede van 44 700 na 100 000 verhoog het, sal teen 2015 afgehandel wees.
Obama se besluit om met die onttrekking te begin, het gister ook verdere druk op die Britse regering geplaas om die onttrekking van sy 10 000 soldate in Afganistan te versnel. Die eerste 450 van dié troepe sal in Julie tuis wees.
Sedert die Westerse militêre toetrede tot Afganistan kort ná die 9/11-aanvalle van 2001 in die VSA begin het, is 2540 buitelandse soldate volgens Reutersin gevegte met die Taliban dood. Van hulle is 1632 Amerikaners en 374 Britte.
Meer as 600 soldate van Kanada, Frankryk, Duitsland en ander kleiner lande het ook in die veldtog teen Bin Laden en Al-Kaïda gesneuwel.
“Die ma’s en pa’s van gevalle soldate, vroue wie se mans bene en arms verloor het, en die kinders van diegene wat gesterf het, vra hulself af wat hul opoffering beteken,” het Eikenberry aan die Afgaanse media gesê.
Obama, wat hom volgende jaar vir ’n tweede termyn as president verkiesbaar stel, is tuis onder druk van sowel die publiek as die Amerikaanse kongres om die land se soldate aan Afganistan te onttrek.
Volgens die gesaghebbende Pew-peiling wil 56% van Amerikaners hê dié land se troepe moet so gou moontlik terugkeer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger